Maandag 03 November 2014

Negatiwiteitsuitputting

Dis hierdie mislike tyd van die jaar. Alles vrolik buite & jy sit in dieselfde kantoor, besig met dieselfde werk, omring deur dieselfde mense...en baie van daardie mense is lekkerrrr moeilik, né? Dalk is daar selfs mense in jou huis of sosiale kring wat ook skielik onverklaarbaar nors geword het?

Ek glo almal moet daar wees vir die mense vir hulle lief is. Altyd. Sonder uitsondering; maar dit raak partykeer moeilik om by te staan sonder om saam in dieselfde donker gat in te val, so die enigste uitweg is dus om jou optimisme daagliks te beoefen totdat dit sterk genoeg is om jou op die wal te hou & jou geluk elke dag ongeskonde te laat.

Die maklikste manier vir my, is om grappe te maak totdat ek weer die lig of die liefde kan raaksien. Oor selfs die situasies wat eintlik glad nie 'n grap is nie. Lag maak my altyd net soveel ligter - en dit help my om te onthou dat alles op onse aarde eintlik maar net tydelik is.
Ek maak ook seker daarvan dat ek gereeld inspirerende boodskappe lees (en uitdeel) & ek luister altyd deur die dag na musiek waarvan ek hou. TED praatjies is natuurlik ook altyd 'n wenner as ek na iets wil kyk/luister om my Oemf! 'n hupstoot te gee.

Daar is ongelukkig tye & plekke wat glad nie gepas is vir hierdie Metodes van my nie, so hoe bly jy positief?

Dinsdag 29 Julie 2014

Onvoorspelbare Liefde

Die enigste voorspelbare liefde waarvan ek weet, is die tipe waarvan ek my vakansies om gelees het by Ouma. Hulle was almal Afrikaanse Mills & Boon-soort boeke, waarin die romantiese helde & heldinne altyd die verhaal afgeskop het te midde 'n emosionele twee-geveg, en waarin mens lees van soene in kuiltjies & hande op dye. Dit was gewoonlik 'n boer/ prokureur/ wildbewaarder & 'n verpleegster/ onderwyseres/ sekretaresse wat geen ooghare vir mekaar gehad het nie; en dan met die verdere verloop van hul verhouding verlief geraak het op mekaar (alhoewel hulle 3/4 deur die hele romanse eers agtergekom het dis wat aan die gang is...nogal gereeld gedurende storms of ander aksie-belaaide omstandighede).

My werklikheid is toe op die ou end wêrelde verwyderd daarvan. Ek & my man was vir amper 10 jaar lank eers vriende voor ons agtergekom het ons is presies waarna ons nog altyd soek. Boonop is ons liefdesverhaal elke dag nog vir my die een onverwagse lewensles op die ander. Nie net oor die liefde wat ons deel & hoe dit met die verloop van tyd verander nie, maar ook oor myself.

By tye laat hierdie lessies my voel asof ek kan skree van frustrasie oor ek hom/myself nie lekker verstaan nie, maar na elke struikelblok wat ons saam oorwin, is die band wat ons deel net sterker as vantevore - en meer volwasse. Moenie my verkeerd verstaan nie! Sommige struikelblokke voel soos klein ou heuweltjies terwyl die ander voel asof hulle vir altyd gaan aanhou soos elle-lange bergreekse, maar wanneer ek dit regkry om deur die moeilike tye te ploeg, besef ek die woede & frustrasies is net tydelik. My liefde vir hom is vir altyd.

Donderdag 24 April 2014

Die Taal Oorlog

Ek is 'n Trots-Suid-Afrikaanse baster-baba. My familie se voorvaders kom - soos meeste Suid-Afrikaners s'n seker, van regoor die wêreld.  Bo en behalwe dié feit, het die twee helftes van my familie eens op 'n tyd ook teen mekaar oorlog gevoer (Anglo-Boere Oorlog), so natuurlik het my Pa en Ma se huistale en tradisies redelik van mekaar verskil.

My Pa se gesin was (en is) baie gesteld daarop om Afrikaans KORREK te praat. Nee, ek is dood ernstig; die woord 'draadloos' is onlangs deur een van die nuwe generasie aan daardie kant ge-uiter.

Aan die ander kant, wil ek graag sê my Ma se gesin was (en is) Engels, maar alhoewel hulle oor die algemeen bietjie minder konserwatief is (soos wat die Engelse gesinne hier gewoonlik is), verskil húl Engels daarvan op dieselfde wyse as wat Trevor Noah reken Mitchell's Plain se taalgebruik enig in sy soort is*. Pa het, toe ek jonger was, een keer vertel hoe deurmekaar hy geraak het wanneer hy met die kers gaan opsit het by die Williams Huis gedurende die vlerk-sleep periode. Blykbaar het Oupa Williams nie Afrikaans gepraat nie, m.a.w. wanneer hy met Pa gepraat het of die 6 Williams'e met mekaar, was dit in Engels; maar wanneer enige iemand behalwe Oupa Williams met Pa gepraat het, was dit in Afrikaans.

Nes my Pa geworstel het om tred te hou met die oorskakelimg tussen die twee tale, struwel ek daagliks in my binneste met hulle en is ek steeds nie seker watter een ek die liefste het nie (en as gevolg daarvan is ek ook nie so goed daarmee om beide ten alle tye suiwer te praat/skryf nie). Ek lees oor die algemeen meer Engelse boeke en raak skoon liries wanneer ek Stephen Fry hoor, maar soms proe woorde vir my steeds net soeter in Afrikaans...


*Voorbeeld vanuit een van Moeder se gesprekke met haar suster: "Jissie, Mandy! This baadjie is nogal pretty."