Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings

Dinsdag 05 September 2017

Genade

Sommige dinge, soos genade en ware liefde, kan ons nie verdien nie.

Nie deur ons aksies óf ons woorde nie.

Dis bloot 'n geskenk van Hom.


Dinsdag 29 Augustus 2017

Vier Jaar Getroud Hierdie Vrydag!


Waar kom hierdie spreekwoord vandaan, vra jy?

'n Disselboom is die paal voor aan 'n woonwa/sleepwa/ens., waaraan dit deur 'n motor/trekker/ens. getrek word (histories die paal voor 'n kar/wa aan weerskante waarvan 'n trekdier ingespan word, of enigeen van twee sulke pale waartussen 'n dier trek) [sien HAT definisie via Viva-Afrikaans.org].

"Wanneer 'n perdekar eweredig gelaai is, wys die disselboom horisontaal, en as die perde draf, klop die disselboom reëlmatig teen die draaghout." - MyVolk.co.za

Maandag 19 Oktober 2015

Sestig

Sestig Sekondes
Sou die bestuurder die trok net vroeër kon sien...

Sestig Minute
Sou ek net kans gehad het om te groet...

Sestig Maande
Sal die holte net kan vul...

Sestig Jaar
Geluk, Pa

Saterdag 11 Julie 2015

Trouklokkies

Toesprake en 'n geweldige groot troue is nou nie julle "ding" nie, maar ek wou so graag die geleentheid hê om my hart openlik uit te spreek dat ek dit nou maar die wêreldwye web instuur...

Liefste Adri & Heinrich,

Mens hoor gereeld (of ek het al ontelbare kere gehoor) dat mense vertel hoe gelukkig hulle is om getroud te kan wees aan hulle beste vriend/vriendin, maar ek dink dis soms net 'n storie wat hulle kwyt raak sodat die wêreld hulle kan beny vir die liefdesverhouding wat hulle kamstig deel.

Julle is egter die uitsondering op die reël! Vandat julle ontmoet het (en Heinrich ons laat wonder het vir wie hy nou eintlik by die woonstel kom kuier, Adri) was dit vir my so oulik om te sien dat julle verliefdheid net nie einde kry nie. Mens sou dink dit sou verdof met tyd, maar julle s'n word net ronder! Dis genoeg om van siek te raak :P

Op 'n ernstiger noot, laat ek net sê - soms wanneer ek so na julle kyk, dink ek dat die res van ons nie 'n halwe idee het wat liefde regtig is nie.

Weereens baie geluk! Mag julle huwelik sowaar elke kronkel op julle pad vorentoe moeiteloos glad stryk.

Dinsdag 29 Julie 2014

Onvoorspelbare Liefde

Die enigste voorspelbare liefde waarvan ek weet, is die tipe waarvan ek my vakansies om gelees het by Ouma. Hulle was almal Afrikaanse Mills & Boon-soort boeke, waarin die romantiese helde & heldinne altyd die verhaal afgeskop het te midde 'n emosionele twee-geveg, en waarin mens lees van soene in kuiltjies & hande op dye. Dit was gewoonlik 'n boer/ prokureur/ wildbewaarder & 'n verpleegster/ onderwyseres/ sekretaresse wat geen ooghare vir mekaar gehad het nie; en dan met die verdere verloop van hul verhouding verlief geraak het op mekaar (alhoewel hulle 3/4 deur die hele romanse eers agtergekom het dis wat aan die gang is...nogal gereeld gedurende storms of ander aksie-belaaide omstandighede).

My werklikheid is toe op die ou end wêrelde verwyderd daarvan. Ek & my man was vir amper 10 jaar lank eers vriende voor ons agtergekom het ons is presies waarna ons nog altyd soek. Boonop is ons liefdesverhaal elke dag nog vir my die een onverwagse lewensles op die ander. Nie net oor die liefde wat ons deel & hoe dit met die verloop van tyd verander nie, maar ook oor myself.

By tye laat hierdie lessies my voel asof ek kan skree van frustrasie oor ek hom/myself nie lekker verstaan nie, maar na elke struikelblok wat ons saam oorwin, is die band wat ons deel net sterker as vantevore - en meer volwasse. Moenie my verkeerd verstaan nie! Sommige struikelblokke voel soos klein ou heuweltjies terwyl die ander voel asof hulle vir altyd gaan aanhou soos elle-lange bergreekse, maar wanneer ek dit regkry om deur die moeilike tye te ploeg, besef ek die woede & frustrasies is net tydelik. My liefde vir hom is vir altyd.