Donderdag 31 Desember 2015

Maandag 19 Oktober 2015

Sestig

Sestig Sekondes
Sou die bestuurder die trok net vroeër kon sien...

Sestig Minute
Sou ek net kans gehad het om te groet...

Sestig Maande
Sal die holte net kan vul...

Sestig Jaar
Geluk, Pa

Vrydag 02 Oktober 2015

Slaak 'n Sug van Verligting


Dis so maklik om verblind te word deur konstante klaagliedere. Méér so wanneer die mense om ons nie noodwendig optimisme & hoop so belangrik ag vir geestelike gesondheid soos wat mens self doen nie.

Ek wil vandag net graag 'n oomblik neem om 'n amptelike "Dankie" (op skrif en alles) opstuur vir hoe goed ma haar kanker teenstaan, en ook hoe skoon my resultate gelyk het Dinsdag.

Sondag 30 Augustus 2015

Leë Holtes

Wanneer ons geliefdes verloor, die gunsteling-mense in ons lewens, bly die holtes in ons harte leeg. Niks en niemand kan hulle vir ons vul nie.

Op die donker dae, wanneer dinge te veel raak en ek begin huil, begin ek nie noodwendig oor my Pa huil nie, maar op die ou end is hy waaroor ek huil. Ek mis hom. Die stomp manier waarop hy uit ons lewens weggevat is, oorweldig my met woede en magteloosheid. Al wil ek met die hele wêreld daaroor baklei, weet ek terselfdertyd dat dit niks sal verander nie. Hy is steeds weg.

Dit begin vir my sin maak hoekom ons die woord 'rou' in Afrikaans gebruik. 'n Wond wat rou of oop is, is dalk iets waaraan jy gewoond kan raak, maar dit beteken nie dit hou op seer voel nie.

Weet jy ook hoe dit voel? Vertel my, hoe verwerk mens so 'n verlies?

Saterdag 11 Julie 2015

Trouklokkies

Toesprake en 'n geweldige groot troue is nou nie julle "ding" nie, maar ek wou so graag die geleentheid hê om my hart openlik uit te spreek dat ek dit nou maar die wêreldwye web instuur...

Liefste Adri & Heinrich,

Mens hoor gereeld (of ek het al ontelbare kere gehoor) dat mense vertel hoe gelukkig hulle is om getroud te kan wees aan hulle beste vriend/vriendin, maar ek dink dis soms net 'n storie wat hulle kwyt raak sodat die wêreld hulle kan beny vir die liefdesverhouding wat hulle kamstig deel.

Julle is egter die uitsondering op die reël! Vandat julle ontmoet het (en Heinrich ons laat wonder het vir wie hy nou eintlik by die woonstel kom kuier, Adri) was dit vir my so oulik om te sien dat julle verliefdheid net nie einde kry nie. Mens sou dink dit sou verdof met tyd, maar julle s'n word net ronder! Dis genoeg om van siek te raak :P

Op 'n ernstiger noot, laat ek net sê - soms wanneer ek so na julle kyk, dink ek dat die res van ons nie 'n halwe idee het wat liefde regtig is nie.

Weereens baie geluk! Mag julle huwelik sowaar elke kronkel op julle pad vorentoe moeiteloos glad stryk.

Maandag 13 April 2015

Wanneer Paaie Skei

Die grasie waarmee jy die einstryd hanteer het, slaan die wind uit my seile. Ek praat dalk baie, maar daarvoor het ek nie die regte woorde nie.

Hierdie proses was seker 'n dure lewensles vir jou ('skoolgeld' soos my skoonpa sou sê), maar ek is verby verbaas wanneer ek mooi dink oor wat ek alles by jou geleer het - en ek moet bieg dat ons dieselfde swak punte deel, want ek het gedink ek het die ergste verwag as gevolg van wie jy is, maar as ek eerlik is, is dit dalk meer 'n gevolg gewees van wie ek is in die diep, donker kuile wat ek nie vir almal wys nie.

Ek twyfel sterk of ons ooit die geleentheid sal hê om openhartig oor alles te gesels, so ek wou net die beste wense vir jou toekoms in die heelal in stuur. Miskien kom dit tog op 'n manier by jou uit.

Pic Source: Unsplash

Sondag 01 Februarie 2015

Liewe Pa,

Ek voel soms so verlore in die pyn en verlange. Dis baie moeilik om vrede te maak daarmee dat Pa nie meer hier is nie, want dit voel nie altyd asof tyd regtig besig is om 'n verskil te maak nie. Meer as drie jaar later slaan die verlies soms nog steeds my wind uit.

Miskien weet Pa dit nou, maar ek het nooit die kans gehad om te verduidelik dat die gereelde baklei en stry net "ons ding" was nie. Die onderonsies was nie eintlik ooit die middelpunt nie, dit was net lekker om te kon debateer oor dinge met iemand wat kon verstaan hoe 'n lekker argument net die bloed aan die borrel kon kry, hoe dit passie kon wek en geleenthede skep om mekaar beter te leer ken.

Daar is gelukkig baie mense in my lewe waarvoor ek altyd innig dankbaar sal bly, maar sonder Pa voel ek alleen tot in my siel, want op moeilike dae moet ek altyd vir ander verduidelik, en Pa't meeste van die tyd sommer net self verstaan.

Ek besef ook mens moenie so daaraan dink nie, maar ek glo Liewe Jesus verstaan hoekom ek partykeer voel dat die manier waarop Pa so vroeg weggeruk is, die wreedste ding is wat God nog ooit gedoen het.

As ek Pa se liefde net nog een keer kon voel...