Saterdag 11 Julie 2015

Trouklokkies

Toesprake en 'n geweldige groot troue is nou nie julle "ding" nie, maar ek wou so graag die geleentheid hê om my hart openlik uit te spreek dat ek dit nou maar die wêreldwye web instuur...

Liefste Adri & Heinrich,

Mens hoor gereeld (of ek het al ontelbare kere gehoor) dat mense vertel hoe gelukkig hulle is om getroud te kan wees aan hulle beste vriend/vriendin, maar ek dink dis soms net 'n storie wat hulle kwyt raak sodat die wêreld hulle kan beny vir die liefdesverhouding wat hulle kamstig deel.

Julle is egter die uitsondering op die reël! Vandat julle ontmoet het (en Heinrich ons laat wonder het vir wie hy nou eintlik by die woonstel kom kuier, Adri) was dit vir my so oulik om te sien dat julle verliefdheid net nie einde kry nie. Mens sou dink dit sou verdof met tyd, maar julle s'n word net ronder! Dis genoeg om van siek te raak :P

Op 'n ernstiger noot, laat ek net sê - soms wanneer ek so na julle kyk, dink ek dat die res van ons nie 'n halwe idee het wat liefde regtig is nie.

Weereens baie geluk! Mag julle huwelik sowaar elke kronkel op julle pad vorentoe moeiteloos glad stryk.

Maandag 13 April 2015

Wanneer Paaie Skei

Die grasie waarmee jy die einstryd hanteer het, slaan die wind uit my seile. Ek praat dalk baie, maar daarvoor het ek nie die regte woorde nie.

Hierdie proses was seker 'n dure lewensles vir jou ('skoolgeld' soos my skoonpa sou sê), maar ek is verby verbaas wanneer ek mooi dink oor wat ek alles by jou geleer het - en ek moet bieg dat ons dieselfde swak punte deel, want ek het gedink ek het die ergste verwag as gevolg van wie jy is, maar as ek eerlik is, is dit dalk meer 'n gevolg gewees van wie ek is in die diep, donker kuile wat ek nie vir almal wys nie.

Ek twyfel sterk of ons ooit die geleentheid sal hê om openhartig oor alles te gesels, so ek wou net die beste wense vir jou toekoms in die heelal in stuur. Miskien kom dit tog op 'n manier by jou uit.

Pic Source: Unsplash

Sondag 01 Februarie 2015

Liewe Pa,

Ek voel soms so verlore in die pyn en verlange. Dis baie moeilik om vrede te maak daarmee dat Pa nie meer hier is nie, want dit voel nie altyd asof tyd regtig besig is om 'n verskil te maak nie. Meer as drie jaar later slaan die verlies soms nog steeds my wind uit.

Miskien weet Pa dit nou, maar ek het nooit die kans gehad om te verduidelik dat die gereelde baklei en stry net "ons ding" was nie. Die onderonsies was nie eintlik ooit die middelpunt nie, dit was net lekker om te kon debateer oor dinge met iemand wat kon verstaan hoe 'n lekker argument net die bloed aan die borrel kon kry, hoe dit passie kon wek en geleenthede skep om mekaar beter te leer ken.

Daar is gelukkig baie mense in my lewe waarvoor ek altyd innig dankbaar sal bly, maar sonder Pa voel ek alleen tot in my siel, want op moeilike dae moet ek altyd vir ander verduidelik, en Pa't meeste van die tyd sommer net self verstaan.

Ek besef ook mens moenie so daaraan dink nie, maar ek glo Liewe Jesus verstaan hoekom ek partykeer voel dat die manier waarop Pa so vroeg weggeruk is, die wreedste ding is wat God nog ooit gedoen het.

As ek Pa se liefde net nog een keer kon voel...

Maandag 03 November 2014

Negatiwiteitsuitputting

Dis hierdie mislike tyd van die jaar. Alles vrolik buite & jy sit in dieselfde kantoor, besig met dieselfde werk, omring deur dieselfde mense...en baie van daardie mense is lekkerrrr moeilik, né? Dalk is daar selfs mense in jou huis of sosiale kring wat ook skielik onverklaarbaar nors geword het?

Ek glo almal moet daar wees vir die mense vir hulle lief is. Altyd. Sonder uitsondering; maar dit raak partykeer moeilik om by te staan sonder om saam in dieselfde donker gat in te val, so die enigste uitweg is dus om jou optimisme daagliks te beoefen totdat dit sterk genoeg is om jou op die wal te hou & jou geluk elke dag ongeskonde te laat.

Die maklikste manier vir my, is om grappe te maak totdat ek weer die lig of die liefde kan raaksien. Oor selfs die situasies wat eintlik glad nie 'n grap is nie. Lag maak my altyd net soveel ligter - en dit help my om te onthou dat alles op onse aarde eintlik maar net tydelik is.
Ek maak ook seker daarvan dat ek gereeld inspirerende boodskappe lees (en uitdeel) & ek luister altyd deur die dag na musiek waarvan ek hou. TED praatjies is natuurlik ook altyd 'n wenner as ek na iets wil kyk/luister om my Oemf! 'n hupstoot te gee.

Daar is ongelukkig tye & plekke wat glad nie gepas is vir hierdie Metodes van my nie, so hoe bly jy positief?

Dinsdag 29 Julie 2014

Onvoorspelbare Liefde

Die enigste voorspelbare liefde waarvan ek weet, is die tipe waarvan ek my vakansies om gelees het by Ouma. Hulle was almal Afrikaanse Mills & Boon-soort boeke, waarin die romantiese helde & heldinne altyd die verhaal afgeskop het te midde 'n emosionele twee-geveg, en waarin mens lees van soene in kuiltjies & hande op dye. Dit was gewoonlik 'n boer/ prokureur/ wildbewaarder & 'n verpleegster/ onderwyseres/ sekretaresse wat geen ooghare vir mekaar gehad het nie; en dan met die verdere verloop van hul verhouding verlief geraak het op mekaar (alhoewel hulle 3/4 deur die hele romanse eers agtergekom het dis wat aan die gang is...nogal gereeld gedurende storms of ander aksie-belaaide omstandighede).

My werklikheid is toe op die ou end wêrelde verwyderd daarvan. Ek & my man was vir amper 10 jaar lank eers vriende voor ons agtergekom het ons is presies waarna ons nog altyd soek. Boonop is ons liefdesverhaal elke dag nog vir my die een onverwagse lewensles op die ander. Nie net oor die liefde wat ons deel & hoe dit met die verloop van tyd verander nie, maar ook oor myself.

By tye laat hierdie lessies my voel asof ek kan skree van frustrasie oor ek hom/myself nie lekker verstaan nie, maar na elke struikelblok wat ons saam oorwin, is die band wat ons deel net sterker as vantevore - en meer volwasse. Moenie my verkeerd verstaan nie! Sommige struikelblokke voel soos klein ou heuweltjies terwyl die ander voel asof hulle vir altyd gaan aanhou soos elle-lange bergreekse, maar wanneer ek dit regkry om deur die moeilike tye te ploeg, besef ek die woede & frustrasies is net tydelik. My liefde vir hom is vir altyd.

Donderdag 24 April 2014

Die Taal Oorlog

Ek is 'n Trots-Suid-Afrikaanse baster-baba. My familie se voorvaders kom - soos meeste Suid-Afrikaners s'n seker, van regoor die wêreld.  Bo en behalwe dié feit, het die twee helftes van my familie eens op 'n tyd ook teen mekaar oorlog gevoer (Anglo-Boere Oorlog), so natuurlik het my Pa en Ma se huistale en tradisies redelik van mekaar verskil.

My Pa se gesin was (en is) baie gesteld daarop om Afrikaans KORREK te praat. Nee, ek is dood ernstig; die woord 'draadloos' is onlangs deur een van die nuwe generasie aan daardie kant ge-uiter.

Aan die ander kant, wil ek graag sê my Ma se gesin was (en is) Engels, maar alhoewel hulle oor die algemeen bietjie minder konserwatief is (soos wat die Engelse gesinne hier gewoonlik is), verskil húl Engels daarvan op dieselfde wyse as wat Trevor Noah reken Mitchell's Plain se taalgebruik enig in sy soort is*. Pa het, toe ek jonger was, een keer vertel hoe deurmekaar hy geraak het wanneer hy met die kers gaan opsit het by die Williams Huis gedurende die vlerk-sleep periode. Blykbaar het Oupa Williams nie Afrikaans gepraat nie, m.a.w. wanneer hy met Pa gepraat het of die 6 Williams'e met mekaar, was dit in Engels; maar wanneer enige iemand behalwe Oupa Williams met Pa gepraat het, was dit in Afrikaans.

Nes my Pa geworstel het om tred te hou met die oorskakelimg tussen die twee tale, struwel ek daagliks in my binneste met hulle en is ek steeds nie seker watter een ek die liefste het nie (en as gevolg daarvan is ek ook nie so goed daarmee om beide ten alle tye suiwer te praat/skryf nie). Ek lees oor die algemeen meer Engelse boeke en raak skoon liries wanneer ek Stephen Fry hoor, maar soms proe woorde vir my steeds net soeter in Afrikaans...


*Voorbeeld vanuit een van Moeder se gesprekke met haar suster: "Jissie, Mandy! This baadjie is nogal pretty."