Woensdag 28 Junie 2017

Malligheid

Hierdie bly nou maar net een van my gunstelinge:

Die Kranksinnige
deur S.J. Pretorius

In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:

die een is gek,
die ander, ek.

Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.

In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy luid

sy wrok teen God en die wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.

Dinsdag 23 Mei 2017

Spesiale Ek

Soms, Here, verdwyn ek in my gewoon-wees
onsigbaar tussen bekendes, suksesvolles, geleerdes, presteerders,
en wonder ek of U my - enkeling - ooit raaksien?

Dis wanneer ek vergeet
hoe goed U my diepste wese ken;
U lees elke wegsteek-gedagte,
voel my seerkry,
lag my vreugde,
verstaan al my gisters én môres!

Help my onthou, Skepper
dat U my liefhet asof ek U enigste kind is, dat U my koester, Jesus,
in alles wat ek is, dat U my onvoorwaardelik vul, o Gees.

Help my onthou dat
ek só spesiaal is
dat U my nooit vergeet nie!

[Uit: Milanie Vosloo, Jou Voetpad Na Vrede]